Hanlie's Blog  

                                                               All the good about South Africans

 

 

Contact Hanlie at hanlie@sadogood.co.za.

Back to Hanlie's Blog

Contact Christo if you need a good professional website at affordable prices. You will receive the personal attention you deserve.

more info:

 

 christo1964@gmail.com

 

Christo van Lill, ons vennoot  met die sadogood-projek en ontwerper van www.sadogood.co.za werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

HOOFSTUK 9:

Verskuiwing van grense

Vannag (11 Mei 2012) is ek verstom. My verwysingsraamwerk het geskuif. Mens kan maar sê my bek hang oop. Jy sien die ding staan so:

Ek het nog altyd myself beskou as ernstig oor die Here, die Skepper van die heelal, die God van die gode, die God van Abraham, Isak en Jakob.  Ek het ‘n groot gedeelte van my geestelike lewe dit belangrik geag om moeite te doen om so min of meer ‘n uur na uur en ‘n half verkieslik per dag tyd aan die Here te spandeer…en nogal goed gevoel daaroor.  Ek bedoel, nadat ek deur die ‘self-righteousness’ daarvan gekom het van “kyk hoe goed is ek”, het ek beweeg na ‘n tyd van heerlike gemeenskap met ‘n Verlosser wat my wil ken, wat belangstel in my doen en late, ‘n tap uit ‘n kragbron wat by tye onuitspreeklik is. Ek het so bietjie meer relax oor “religious” tyd saam met Hom en meer gefokus op Geesvervulde en geleide “ontmoetingstye”.

Ek het veral voor ons toer deur SA die openbaring gekry dat ek vir ‘n groot gedeelte van my lewe meer my eie opregtheid om die Here te aanbid “aanbid” het, maar Hom nie noodwendig ernstig opgeneem het nie, soos bv. ten spyte van “ Moenie vrees nie” nog steeds gevrees het, en ten spyte van ” Ek sal vir jou sorg” steeds geworry het, en t.s.v. ”solank jy dit aan die minste doen, doen jy dit aan My” steeds in ‘n ongemaklike ander rigting gekyk as ‘n bedelaar nader stap. Met die doen van 2012, die oorboordgooi van ‘n paar veiligheidsnette, die uitstap van “Verkoop alles wat jy het”, en teen logika voortbeur om jou fisiese kanale van voorsiening te onteer, het daar nuwe horisonne oopgegaan. Een wat ek vandag beleef het en my steeds puzzle.

Toe ons op Upington oornag het, het ‘n bruin kerk hul Paasfeesvieringe oorkant die rivier vanwaar ons gekamp het deurnag gehou.  Ek het nogal gedink, “Wow dis great”. Ons het op skool deurnag geleenthede gehad om geld in te samel vir die matriekafskeid, ek het ook al gehoor van ‘n deurnag bid wat die tieners by ons kerk gereël het. Ek was dankbaar om onder die geklank van lofprysing van die Allerhoogste aan die slaap te raak daar in Upington. Ons het nog voor ons gaan slaap as gesin saam gebid, gedurende die nag ontwaak, hul gehoor en veilig gevoel. Volgende oggend nogal ‘n paar kragtige direkte gebedsbeantwoording beleef. Great.

 

So is ons mos in PE, in die huis waar Riaan groot geword het. Help Riaan se pa trek, hy’s 80. So ‘mind ek maar my own business’ met die homeschooling, maak kos en so. Wat besonders is van die ervaring is dat Riaan se pa van 80 ‘n bidder is. Hy’s nou nie die sosiaalste mens wat ek ken nie en sal jou meer opval as miskien ‘n niksseggende ou omie- maar boy kan hy bid! Verskoon homself maklik uit jou teenwoordigheid om nie in jou pad te wees en doen sy werkies in en om die huis met toewyding, maar enige uur as die behoefte hom oorval gaan hy na sy kamer en begin bid. Vir die kinders en kleinkinders, vir die omgewing en sy mense, vir die regering van die land, vir landsleiers, kerkleiers…dan aanbid hy die Here met ‘n effense vals noot gesing “Oh Lord My God…” en trek maar weer los met ‘n ander gedagte wat voor die Allerhoogste gebring word. Ek voel bevoorreg om te hoor hoe bid mens sommer by tye 2 of meer ure aaneen so by homself. As die emosie van inpak en van sy goedjies ontslae raak hom beetpak verskoon hy hom stilletjies en begin (nie so stilletjies) met “O Lord my God…” Hy’s hardhorend, sien, en besef dus nie mooi hoe hard hy bid nie. Ek onthou dit van ons 20 jaar se kuiers Desembermaande - meer so oor die later jare van aan die slaap raak en iewers in die nag wakker word met ‘n hardestem wat eers fluisterend en dan al hoe harder deur die huis trek. Ek het al gewonder wat is die effek van die jare se bid vir sy mense en omgewing wat op die oog af nie aangrypend verander het nie, die gebed van die gelowige het mos groot krag. Dis eers met hierdie jaar se besoek en die intensiteit van sy gebede wat toegeneem het wat ek gewonder het hoeveel het sy gebede oor die jare met sy oudste seun se vreemde radikale mammon-onterende-gedrag te doen?

Ek dwaal effens af, maar dis dalk deel van die storie, so “bear with me” soos die ingelsman sal sê. Terug by die bek oophang deel. So om die hoek van my skoonpa se huis het daar ‘n tydjie gelede dalk ‘n jaar of 2 gelede (ek was nie vroeer bewus van hulle nie) ‘n swart kerk oopgemaak. Sommer so bovertrek (meer saal) van ‘n ontruimde fabrieksgebou. Ons sien die gegoede karre en gegoede swart mense wat in ‘n armerige voorheen wit/blanke gebied kerk toe kom, en dan weer gaan. In die nag hoor mens allerhande nagklubs se harde musiek, maar eennag verbeel ek my mense gaan aan meer soos die lot in Upington met hul deurnag Paasfees. Steur ons nie veel daaraan nie, maar later besef ons dis nou elke nag. Met een oggend se draf sien Riaan dis ‘n tipe konferensie wat duur vanaf die 1ste Mei tot die 14de Mei en hul het meeste van hul dienste ‘n “Night Vigilence”, soos hulle dit noem, van 10nm tot laat (of liewer vroeg), met ‘n gasspreker van Nigeria (Tim Omotoso). Ek spot toe nog eendag en sê ek wil gaan besoek af lê by die kerk.

Met ons wedervaringe met die trek en meubels verskuif het ons vir my skoonpa se jarelange huishulp (Maggie heel regs op die foto bo) ‘n sleepwa vol goed in Zwide gaan aflaai - daar die Ubuntu beleef van rassegrense wat sosiaal en hartoopmakend oorgesteek word. Na die dag se gebeure in Zwide kondig Riaan aan dat ons Donderdagaand een van die dienste bywoon. Die Donderdag dog ons die diens begin 6nm en gaan toe maar so 7.00 om nou meer as hul “opgewarm” het daar aan te kom. Ek was baie ‘keen’, maar soos ons aanstap maar lekker ongemaklik geraak. Hoe gaan die witgesigte ontvang word? Ons stap in en kom by vriendelike oopgesig deurwagter wat gretig vir ons plek in die hoof ouditorium- wat reeds 80% vol is- te gaan verseker. Ons vind toe uit van die “night vigilance” wat eers 10.00nm begin, en reël  ons sal terugkom want ons moet die kinders in die bed kry. Teen 10.30 nm kon ons hul al hoor en stap oor, nadat die kinders vas aan die slaap in oupa se sorg gelaat word.

En dis waar verwysingsraamwerke geherdefinieer word. Ons stap in toe die diens reeds begin het en die “man of God” al begin praat het. Met netjies geklede vriendelike deurwagte in ‘n aflosspan in aksie kom hulle om vir hul gaste in ‘n oorvol ouditorium plek te vind. Onthou van die mense wag reeds van 6nm af vir die diens om goeie plekke te verseker. Riaan probeer tevergeefs verduidelik ons sal sommer agter of in die gangetjie staan. Soos ons agter ons gids aanstap staan ‘n ouerige vrou op en bied haar sitplek vir ons aan -Riaan keer, nee dis darem bietjie erg. Daar is een oop stoel en ek sit net om die ontwrigting te verminder. Binne sekondes het die 2de been van die “aflosspan” in aksie gekom. Ek sien net ‘n winkende glimlag en besef daars elders beter plek gemaak. Ek hurk-stap om nie ‘n scene te maak nie en volg maar net die hakskene voor my. Dis toe ek sit wat ek besef, mense is gevra om hul voorste sitplekke te verlaat om ons toe te laat om daar te sit - heel voor op sagte sitplekke. Die preek gaan toe aan tot 12.30. Vasgenael sit ek en notas maak en spits my ore om die vars openbarings neer te pen wat tussen die spreker en sy tolk gesê is. 2ure later toe die spreker stop en die mense begin bid besef ons ons beter nou glip. Vol stap ons terug huistoe en bespreek die lekkerte, die onuitspreekbare emosie om deur die groep van ongeveer 600 mense as eregaste behandel te word. Tuis probeer ek slaap maar hoor hul steeds bid en verlang om daar te wees. Ek verbeel my ek hoor karre ry en reken hul is seker nou klaar. Dit was so teen 1nm. Ek voel toe beter want ek sou nie wou uitmis op iets nie. Ek raak aan die slaap en word weer 3nm wakker met die prediker wat nou ernstiger as ooit preek. Dis hier waar my raampie van 1 keer per week kerk vir net nie meer as ‘n uur en ‘n half nie, in skerwe spat.

Vir 2 weke aanmekaar. Elke aand van 6nm tot vroeg

Hulle weet iets wat ek nie weet nie. Hulle ervaar iets wat ek wil hê. Met hul lofprysing soos ‘n formidabele magskreet van ‘n weermag kom sit ek jaloers by die rekenaar om die ervaring neer te pen. Ek voel nederig.

Soos ‘n amateur in die teenwoordigheid van meesters hunker ek om daar te kon gewees het.

Nou wonder ek of ‘n ou oënskynlik insignificant ou omie se jarelange gebede vir sy omgewing nie tog bydraend hiertoe kon gewees het - dalk is dit verwaandheid om so te dink.  Maak nou nie saak of dit het of nie – die punt is, alle grense van toegewydheid, erns, gemaksones is vir my vir altyd verskuif.

Back to Hanlie's Blog