|
|
|
Kirkwoord All the good about South Africans
|
|
Contact Christo if you need a good professional website at affordable prices. You will receive the personal attention you deserve.
more info: |
7 Augustus 2012 Dagsê almal! Dit is `n elle-lange nuusbrief! Jammer daaroor, want ek is ver agter met alle korrespondensie - hoop jy kry iewers`n kansie om dit te lees! Net kortliks vir die wat nog nie weet nie. Die Droom-projek het ontstaan met Theuns Coetzee, se `Droom vir Bonnievale. Met sy weeklikse praatjies op RSG waar hy raad gee oor hoe om jou dorp te verfraai en op te knap en om saam te streef na `n gesonde en skoon gemeenskap. Al hoe meer dorpe het met hom kontak gemaak – hulle wil ook deel wees van hierdie projek. So het die `Droom vir Bonnievale` verander na die groter `Droom vir Suid Afrika`. Ek dink dit is nou 47 dorpe wat reeds geregistreer het vir hierdie hartsprojek. Dit is waar die Kirkwood Droom ontstaan het. Ons streef daarna om `n verskil te maak en om weer trots te wees op ons mooie dorp. Die besef het lankal tot ons deurgedring dat daar `n groot opvoedingstaak is wat vir ons voorlê; dat ons elkeen hande uit ons sakke moet haal en self aan die werk moet spring. Ons besef dat ons nie net kan terugsit, wag en kla oor die Munisipaliteit/die regering/jou buurman/of wie-ookal-se-skuld-dit-is, en wie-ookal-nie-hul werk doen nie, maar dat ons elkeen die verskil moet wees en `n voorbeeld moet stel; om die goeie saad te saai en te hoop en bid iewers ontkiem dit. Sover is die grootste uitdaging om nie moed te verloor nie en aan te hou probeer. As ons egter meer is wat hande vat – sal ons soveel gouer `n gesonde en skoon gemeenskap word. Ons het begin met `n handjievol dromers in ons dorp en Vallei. Na Theuns se besoek en praatjie op die 5 Julie is ons nou heelwat meer! Die besige oestyd het ons almal aan die rondskarrel en die ure in die dag is te min en ons kom nie by veel meer ander dinge uit nie, maar daar is soveel werk om te doen in ons mooi dorp en woongebiede!! Ons het hulp en hande nodig wat kan voorvat, asseblief!! Wat so ongelooflik is van hierdie hartsprojek, is dat daar geen politiek betrokke is nie; die gemeenskappe en verskillende kulture vat saam hande en het iets om saam oor opgewonde te raak! Ons projekte waarmee ons tans besig is: Rietberg skool: `n Paar beddings is ook al aangeplant en verfraai na die verf en die skoonmaak aksie van die Korrektiewe Dienste, Sonsitrus span en die hulp van Wreford Hudson en `n paar werkers. Kom kyk asseblief!!!! As jy dalk besig is om tuin skoon te maak of jy sien jou buurvrou is - bring tog steggies/plante/klippe/aalwyne/vetplante – enige iets. Ons wil dit graag gebruik en sal dit tot kom haal as dit moet!! En dit is nie net vir by Rietberg skool wat ons dit wil gebruik nie, daar is soveel mensies in die woongebiede wat hulle tuine wil mooimaak en wat reeds trots is. Daar is ook baie ander plekke in/buite die dorp wat ons so graag wil laat pronk! Dink net hoe mooi vrolik gaan `n paar blomme-beddings ons dorp lyk! Prof. Grebe en sy span is hard aan die woel met die Skoolhoof en die onderwysers om hulle van binne gesond te maak en ons klompie wil net bome en plantjies plant en kinder-harte bly en weer trots maak. Grooooooot werk!!! Dit is priceless om die kindergesiggies te sien ophelder en wat naderstaan om te help. Ag, en party wil net naby jou wees. Een van die onderwysers het tot gesê dat na die skoonmaak en die mooimaak van die terrein, dat die kinders minder baklei en meer speel. Jou moed, wat dan eintlik al vir weke in jou skoene lê, word gou gelig en jy het weer krag vir die volgende taak! Een van die waardevolste lesse wat ek geleer het, is om eerder iets positiefs te sê (en al moet jy ver gaan soek vir dit) as om die hele tyd te kritiseer en fout te vind. Kyk net hoe mooi gaan die straatveër jou straat vee, as jy vir haar glimlag en sê: jislaak, dankie dat jy dit so goed doen – sy gaan natuurlik trots wees en harder probeer! As jou hart, soos baie van die oudskoliere, by Rietberg skool lê en jy wil graag betrokke raak, want eintlik behoort die skole aan die gemeenskap – kontak ons gerus. As jy graag opbouende raad of leiding wil gee - Mnr. Basson (die skoolhoof) se kontaknr 083 5822441 of die onderhoof, Mev. Hobbs 083 7911502. Prof Randal Grebe sal ook graag van jou wil hoor. Sy kontak besonderhede is: 072 6597421 of rgrebe@telkomsa.net. Bome plant: Daar is reeds `n laning van 214 witysterhout bome geplant vanuit die dorp verby SRCC Kirkwood. In Aqua Park is daar reeds die volgende geplant: by die kliniek 7 witysterhout bome, Neskuiken skooltjie 15 witysterhout bome, Rosleen Kerk 20 witysterhout bome, VGK Kerk 25 witysterhout bome, NG Kerk 20 witysterhout bome en by Kirkwood Rugbyklub 20 witysterhout bome. Karen en Elsa, help my tog reg as ek verkeerd is, hoor! Ons wil graag by al die skole, klinieke, sportgronde, woongebiede en waar ookal daar `n behoefte is bome gaan plant. Ons wil net graag hê dat daar iemand is wat hulle sal onderhou en versorg. Kontak ons gerus as jy wil betrokke raak by hierdie projek. Herwinningsprojek: Ons wou al so graag hierdie baie belangrike projek begin het. Dit is `n REUSE projek en die seisoen is met ons aan die weghardloop en ons kom by niks uit nie. Daarom het ons voor- en raakvatters nodig om te kom help!! Ons het Johan Fourie, van Green Guardian, wat reeds baie suksesvol in Jeffreysbaai en ander gebiede is, gekry om ons te kom leiding gee. Ek stuur graag die notule van die vergadering, indien u dit graag sou wil lees – laat weet net. Ons glo uit ons hart dat dit een van die oplossings gaan wees om ons dorp weer skoon te kry. Die projek werk met kinders van die ouderdom van 2 – 12 jaar wat rommel optel; dit inbring om te weeg; hulle kry `n `token` vir die hoeveelheid of kg ingebring en hulle kan dan die `tokens` gebruik of spaar om vir hulle dan iets by die `Swop Shop` te gaan koop. Die `Swop Shop` word gevul deur donasies/skenkings uit die gemeenskap of besighede en kan enige iets wees van skryfbehoeftes, daaglikse benodighede, ou klere ens. Kontak ons gerus as jy wil betrokke raak by hierdie groot projek, asseblief. U kan ook meer gaan lees op `JBAY Recycling` se webblad oor hoe hulle dinge daar doen en al hulle sukses stories. Moses Mabida Sportgronde: Dit is `n nuwe projek. Masinga Madlebe rig `n paar sokkerspanne daar af – van kleintjies tot jong volwassenes. Mens kan nie meer die veld sien nie; dit is alles verwaarloos en die toilette en aantrekkamers is afgebreek. Dit is nou Masinga, sy span en `n paar van sy sokkerspelers se Droom om weer daar te kan oefen, wedstryde te speel en toernooie aan te bied. Hulle is besig om planne te maak om self in te spring en dit reg te ruk. Ons wil graag help/bystaan waar ons kan, sodat die kinders en volwassenes weer trots kan wees en eienaarskap vat van hulle eens pragtige sportgronde. Masinga weet dat die belangrikste is om die omheining te herstel; rommel op te tel; gronde gelyk te kry; die aantrekkamers en toilette weer reg te kry en die veld bruikbaar te maak. As u voel u wil graag handjie gaan bysit of jou kennis gaan deel – kontak Masinga gerus by 083 6512374/0822223870 of epos adres: madlebem@gmail.com; ons of Ava Scholtz by scholtz@srvalley.co.za – haar hart lê swaar by hierdie projek. Vallei Diere Vriende: Ons harte kort pleisters as ons die groot nood met ons diere in die Vallei sien. Dit is `n uitroep en `n groot aanduiding dat ons as gemeenskap nie so gesond is nie. Daar is baie werk om te doen!!! Ons doen gereelde fondsinsamelings om gereelde (maandelikse) sterilisasies en kastrasies te kan doen en die minderbevoorregtes by te staan met befondsing. Ons `kontrakteur` ook die DBV van Uitenhage uit om probleem areas te besoek en gereelde dip en ontwurmingsdae te kom hou in woongebiede. As jou passie diere is – kom help asseblief!!! Dankie weereens vir al die ondersteuning en liefdeswerke – hier is mense in ons Vallei met groot harte!! Dankie ook aan Dr. Mulder en Dr. Swartz vir al julle getroue raad en bystand – ons waardeer julle! Ander projekte: Jaqui, van Aqua Park woongebied, is besig om te woel onder die mensies. Hulle maak skoon, plant bolle en droom om mense te bemag om groente tuine te vestig en hul woongebied skoon en netjies te kry. Sy laat haar ook nie onderkry deur mense wat nie haar Droom deel nie. Sy en haar span, hou aan om goed te doen. Sy help ons ook fluks om die diere in nood te help. Sy het reeds met die laaste sterilisasie en kastrasies-dag `n paar diere gereel en gaan elke maand ons daarmee bystaan. Sy is waarlik ons oë en ore in die woongebied en `n ware voor- en raakvatter!! Dankie Jaqui!!!! Jy en jou helpers is engele en ons waardeer julle – voorwaar `n inspirasie! 2. Minette en Hanneke, van Grown 4 U uitvoerbesigheid in die dorp, het groot planne. Een daarvan is die kompetisie wat gehou word om `n vlag vir Kirkwood te ontwerp. Ons dorp is hierdie jaar `n 100 jaar oud – rede om ook groot fees te vier!!! Heelwat skole in en buite die dorp neem deel aan die kompetisie. Minette het ook laat weet dat volwassenes ook kan deelneem. Die prys is `n ete vir 4 by Kronenhoff Restaurant wat geborg word deur Grown 4 U. Die sluitingsdatum is 20 Augustus – so opskud!!! Stuur jou vlag-ontwerp vir ons Droom dorp na: kirkwoodvlag@gmail.com. Natuurlik stop hulle drome nie daar nie – hulle praat van banners en om die lamppale te verfraai en nog meer – kan nie wag om weer van hulle te hoor nie! 3. Tannie Meredith gaan ook, sodra sy weer behoorlik op die been is, die ingange van die dorp takel en mooi maak - soos net sy kan!!! 4. SRCC Kirkwood wil graag ook borde opsit by die ingange van ons dorp – waarop ons nuus of gedagtes kan neerskryf oor ons dorp, projekte of net ietsie moois. As ons nog die Groot Baas se arm kan draai, wil ons die stasie ook mooi maak en die geboue verf. Die plukseisoen moet net eers verby dat ons almal weer kan mens word. Ander nuus en gebeure: Judy van Rensburg het ook aan die oorkant van hul huis die gedeelte begin skoonmaak en `n paar plante en bome geplant. Dit lyk spoggerig, Judy!!! Dankie daarvoor!! As jy kans sien vir nog `n paar beddings in die dorp – laat weet hoor!!! · Ons het dan ook ampertjies `n Facebook blad vir ons Kirkwood Droom en `n nuwe epos adres: kirkwooddroom@gmail.com. Ek sukkel my simpel en sal so graag wil hê dat iemand dit van my hande kan afneem asseblief. · Vallei Diere Vriende se Facebook blad is darem al seker `n jaar aan die gang – so dit is onder beheer en werk goed. Ander gedagtes, voorstelle en ook kwellinge: Ons hoofstraat. Daar is heelwat wat ons nie gou sal kan verander nie, maar ons sal met tyd! As jy dalk `n winkeleienaar of huurder is – help tog asseblief om jou ander mede-eienaars/huurders vriendelik te herinner om mooi skoon te maak in/om en buite die winkel. Om tog die vullisdromme agter die winkel te gebruik en nie voor in die hoofstraat te vee nie. Die Munisipaliteit het briewe aan winkeleienaars gerig en daar is prosedures in plek gestel. Kontak hulle gerus indien mooi praat nie meer help nie. Amber: 078 0476067 of Kelelo: 078 1294036. Dit is ons almal se dorp en dit moet ons trots wees! · Ons kort nog heelwat vullisdromme – vir die hoofstraat, systrate en veral paaie na die woongebiede en uit die dorp. Een van die dae weer spuittyd – onthou om die 210 L spuitolie en molasse dromme vir ons te hou, asseblief!!! Strate skoonmaak en skoon hou - Nardus Pienaar in Harrodsstraat en Louise in Johnstraat het `n geruime tydjie terug begin om `n hulp te kry (elkeen dra `n minimale bedrag by per maand ) om hulle strate mooi skoon te hou; papiere uit die slootjieste haal en voor te bly daar waar die munisipaliteit agter raak. Dit het goed gewerk!! Nardus het tot kans gesien om `n paar slaggate reg te maak in Harrodsstraat. Ons het mos al gesê jy is `n engel, nè, Nardus??!!! Hoe lyk dit???!!!! Kan ons ander strate ook betrokke kry by hierdie wonderlike inisiatief? Ons is seker daar is klomp mensies wat in jou straat sal wil help en planne maak om mooi te maak en reg te ruk. Ons hoor graag van julle! Verder is daar hope fotos en ek sal dit aanstuur en nog op die Facebook blad sit, sodra daar `n kansie is – ons wil graag spog! Help ons asseblief om ons Drome vir ons mooie dorp te verwesenlik! Kom word deel van ons hartsprojek en kom met idees en neem leiding en eienaarskap - maak `n verskil – al begin jy net voor jou eie winkel; jou huis; op jou sypaadjie; oorkant die pad – dit is so aansteeklik dat jou knorrige buurman of die volksvreemde winkeleienaar langs jou, gou-gou wil deelhê aan die `mooi-maak en harte bly-maak` projek. Mense voel gou-gou uit plek of raak baie gou skaam as jy voor hulle voordeure kom vee, papiere optel en met voorstelle kom om te help. Iewers langs die pad raak jy iemand se hart aan en maak jy `n verskil – en dit maak alles die moeite werd. O ja, bring ook idees saam as julle gaan kuier in ander dorpe. Of as jul rondry/stap in ons dorp – kyk waar dit beter en mooier gemaak kan word en spring weg daarmee of vra om hulp as jy nie kans sien nie! Onthou ook as julle plante, klippe, bolle, vetplante of enige ander inheemse plante het wat jul graag wil skenk. Dit sal opreg waardeer word! Verskoon tog as ek iets uitgelaat het en laat weet asseblief dat ons dit kan regstel. Hoop om gou van julle te hoor! Groete Ulrica
|