Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
HOOFSTUK 16:
Alles
het ‘n tyd
Die
tyd vir skryf is maar beperk, veral as ek moet wag tot my seun se
skoolwerk agter die rug is en ek ‘n beurt op die ‘laptop’ kan kry.
Hierdie beurt moet nou natuurlik saamval met tyd om te skryf. Dit wil sê
al die ander se skoolwerk is afgehandel, of laat vaar vir die dag, die
kos is afgehandel (die vergader en voorberei daarvan) en ‘what not’… en
een laaste uitstaande voorwaarde natuurlik is, dat die lus om te skryf
my moet oorval. Dis nie aldag wat ek lus het om te skryf nie, veral oor
ek die gewoonte het om my binnegoed te sit en uitryg. Hier sit ek nou op
die vooraand van die kinders se eindeksamen en meeste van die vereistes
is aan voldoen.
Ek
moet dus my gedagtes sowat ‘n maand terug laat gaan na 22 September waar
ons Gauteng verlaat het. Ons gaan nou weer na sowat ‘n maand se ’huis
verblyf’ weer die
kamp- terreine en die Infanta aandurf. So 100 km buite Krugersdorp stop
ons by Buffelspoort, net oorkant Marikana, die myndorpie wat so in die
nuus was vir die stakings. Buffelspoort is in my oë ‘n ideale vakansie
verblyf.
Ek
het as kind karavaanvakansies gehou en hierdie een laat my terugdink aan
die lekker van my kinderdae vakansies.
Die kinders skryf hul laaste paar vakke vir September-ekskamen - so
tussen die supertube ry deur.
Ek gaan vir ‘n vroegoggend draffie om die bloedsomloop aan die gang te
hou en maak seker ek ‘connect’ met God. Ek stap tot ek ‘n plekkie kry
waar daar nie oë is nie, en laat myself toe om Sy liefde te ontvang en
my gedagtes nuut te maak met Sy voorskrifte. Ons 4 dae verblyf word met
nog 3 dae verleng weens ‘n hofsaak van Riaan wat skielik lewendig word
en hom Kaap toe druk. Gelukkig is die saak betyds geskik, maar ons
verlengde verblyf is toe klaar gereël.
Net Hy
kan help
Oral
het mense Hom so nodig.
Ek ontmoet ‘n vrou wie se man ‘n dominee is, wie haar so jaar gelede
verlaat het vir ‘n jonger ‘model’. Sy het die afgelope jaar die
hofgedinge op die ys gehou in ‘n poging om te versoen, net om uit te
vind dat sy voetesleep was om sy pensioengeldjies waarin sy sou kon deel,
te gebruik om sy nuwe liefde op oorsese ritte te trakteer. Intussen
skraap sy bietjies bymekaar om hul kinders te versorg. Ek dink aan die
gedagte dat ‘as die lig in jou donker geword het, hoe groot is jou
donker nie?’ Langs ons staan mense wat 3 maande gelede ‘n 9 maande oue
baba dogtertjie verloor het. Die familie het saamgetrek om van alles te
probeer vergeet. Die kleinding is oorlede na beweerde nalatige optrede
van ‘n swart hospitaalsuster. Later die aand ontmoet ek van die
skoonmakers wat vertel dat hul skof 22:00 eindig en dan moet hul hoop
vir ‘n geleentheid huistoe. Hul kom dus enige tyd van middernag tot 01:00
eers tuis en moet dan die volgende dag 14:00 weer aanmeld vir werk.
Sonder om te dink, sê ek ‘tonight I pray for a lift to be ready for
you’. Die volgende dag was hul gou om te vertel hoe gou die ‘lift’ daar
was, skaars 5 minute geloop. Ek glimlag dankbaar en besef hoe min ek van
hul omstandighede verstaan. Later die aand kry ek een van daai
ongemaklike gedagtes om saam met hulle te gaan bid om weer te vra vir ‘n
‘lift’ vir die aand-ek druk toe maar deur en doen so…
Sukkel-
sukkel
Ons
wou 13:00 vertrek na Riaan en die seuns se 9 gate golf, maar word
vertraag weens een van my belangrike gesprekke. Dit was regtig belangrik
vir my en die ewigheid en Riaan wag geduldig, maar dit wat volg het maar
elke keer weer laat blyk ‘as ek nou nie so lank gestaan en klets het
nie…’ Ons sukkel- sukkel oor ‘n opdraende amper onbegaanbare
grondpad oppad na Potchefstroom se Aardklop en kom later as verwag op
die dorp aan. Dis gou skemer en ons sirkel deur die dorp se strate
opsoek na verblyf.
Die gemoedere begin maar dun gespan raak soos een met die ‘tablet’ se
GPS sukkel, die ander
die feesprogram se detail oor verblyf bestudeer en die ander die nommers
op die program bel vir hulp.
Dit het so maklik geklink ‘ons kamp op die dorp se rugbyveld’ (wat vir
kampende feesgangers ingerig is). Nou ja, uiteindelik het ons natuurlik
die die plek gevind so na aandete-tyd (en die oorskiet padkos weer ‘n
rondte moes doen, en nadat almal geweet het hoe kosbaar die 2 ure
na die beplande vertrektyd eintlik geraak het, nog steeds ‘n klein prys
om te betaal vir wat die gesprek werd was.
Feastings and fastings
Die
fees was belangrik vir Riaan en ek gun dit vir hom. Hy kan so die lekker
in die lewe terugsit en ek het dit nodig in my lewe, aangesien ek maar
so aan die ernstige kant kan wees. Wat sou my lewe sonder hom gewees hetJ. Die Here weet
darem hoe om maats te kies, as jy dit net wil raaksien. Die aand neem ons
Lorax uit vir die kids en vertrek vir ‘n aandjie uit sonder die kinders.
‘Gestock’ met eetgoed skerts Adriaan dat nog nie een van sy Gr 10 maats
die fliek gesien het nie. (… maar moeilik om vir al 4 op een slag te
‘cater’ wat dvd’s betref.) Die skool op wie se
rugbyveld ons gekamp het se onderwysers het die aand daar gebraai.
Die toneeltjie waar
die kinders grappenderwys agter die bussie aanhardloop om ons weg te
sien en bekommerde onderwysergesigte het my baie skuldig laat voel om
hul ‘tuis’ te laat … maar gou het Jeffreysbaai se vis en tjips; die
caramel wafel op ‘n stokkie-stalletjie; en die kunstenaars
se sangtalent by die SAB-verhoog het dit die moeite werd gemaak. Ons vertrek die
volgende dag na Zeerust oppad na Botswana. Oppak is maar
broeiaarde vir spanning om al 6 te laat saamtrek, so vonke spat maar.
Ek is verdiep in
die nuus oor die Mosambiek sendelinge wie se 3 jarige seuntjie, Reiner, in ‘n koma
is, en met masjiene aan die lewe gehou word na hy van ‘n oop bakkie
afgeval het. Die ouers moet besluit of die masjiene afgeskakel gaan
word. My hart is seer. Ek bid dat sy lewe gespaar word. Ons stop op
Ventersdorp en stap met die straat af en bid vir rasseversoening. Die
swaarte hang maar bietjie.
Terug in die bussie kom dit oor die nuus dat Reiner ‘n massiewe
hartaanval gehad het.
Tensy die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie…
Dis eers onlangs wat ek besef het dat om te lewe beteken nie, om heeltyd
net gelukkig te wees nie. Deel van lewe is om hartseer en pyn te beleef
en te moet verwerk en daarvoor hoef ek nie nou bang te wees nie. Soos
Corrie ten Boom dit gestel het, jy sal die treinkaartjie kry om die rit
mee te maak net voor jy opklim. Ek het dit so ervaar met my ma se dood.
As jy my sou sê dit gaan gebeur, sou ek sê ek gaan dit nie kan ‘handle’
nie, maar toe kom dit so onverwags teen alle profetiese woorde van ‘die
Here sal jou oprig uit jou siekbed’ in en daarmee saam die pakkie genade
om dit te kan hanteer.
Ek weet dit sal so wees vir hierdie brawe gesin. Die begrafnisfoto dae
later op die Beeld se voorblad, waar die boetie op die ma se skoot lê en
huil, maak die gedagte amper onmoontlik dat genade iewers soos warm
komberse stukkende harte toevou. Ek bly hoop en bid vir oorvloedige lewe
om uit hierdie kosbare koringkorreltjie uit te bars. Die prys vir ware
Lewe is duur… amper onbetaalbaar duur. Hier kom oorvloedige Lewe vir
Mosambiek. Ons ry deur Coligny, Lichtenburg, ry ‘n draai om Mafekeng te
sien, en kom aan op Avante (plaas, konferensiesentrum en gastehuis) te
Zeerust. Ons betaal R100 vir die nag. |