Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
HOOFSTUK 17:
Voorsiening wat jy nodig het wanneer jy dit nodig het
Ek weet ek begin my paragrawe baie so, maar dit is die nuwe gedagte wat
hierdie jaar in my ingegrein is. Ons betaal ons R100 om op Avante te
slaap sonder om te weet hoe hul kampterrein lyk. Miskien as Riaan geweet
het hoe onklaar dinge is, weens onafgehandelde bouwerk sou hy eerder
aangery het. Ons enigste mede-kampeerders is die 3 bouers wat op die
perseel bou. Teen 00:30 daardie nag skrik ek wakker en hoor stemme. Ek
kyk by die venster uit en sien ‘n groot vuur. Skielik, en vir die eerste
keer die jaar voel ek so weerloos en vrees vir ons lewens. Wawyd wakker
lê ek en kwoteer Ps 91 tot ek weer aan die slaap val. Die volgende
oggend ontmoet ons die eienaar en hoor dat hy baie kerke in Botswana
gebou het. Hy het ook ‘n besigheid in Ganzie en sal ons Rand ruil vir sy
Pula. Ons werk op 1P vir R1,08. Hy lig ons ook in waar die beste
oornagplekke is, waarvoor om uit te kyk, en wat om saam te vat. Dis eers
nadat ons besef het dis pensioen dag op Zeerust en die toue by die banke
sien dat ons besef watter wonderlike voorsiening die beskikbare Pula is.
Ek is bly dat my kinders Sy voorsiening as moedertaal kan aanleer, asof
dit so hoort.
Skilpadhek hier kom ons
En
so was dit ook, die lewe in Botswana. Die haastige hasies daaikant van
die SA grens gelaat. Dis asof die tyd gaan stilstaan het in Botswana en
jy maar net jou ding doen, op jou tyd. Die rit na Khang, waar ons oornag
het is lank, nie weens die 265km soontoe nie, maar weens die ente ente
vaal Kalahari bossies en my gedagtes van: ‘Gaan die pula hou, ek moes my
kosvoorrade aangevul het voor ons deur die grens is’. Dis hier wat ek
besluit om Andrew Murray se boekie oor Nederigheid uit te haal en te
lees. Ai ja, wat ‘n belewenis so tussen die vaal Kalahari bossies -
Murray se lewensveranderende gedagtes oor die onaantreklike woordjie.
Murray
sluit sy boek af met ‘n uitdaging: As jy ernstig is oor nederig, maak
dit vir die volgende 30 dae jou enigste gebed; dat God selfs die
geheimste asemhaling van hoogmoed in jou sal uitwys en verwyder. Mmmm…
Ons oornagplekkie op Khang is netjies en billik teen P160 vir die nag.
Die drukkende hitte is in die lug. Ek begin sommer dadelik agterstallige
wasgoed bykom, nie iets wat ek in ander omstandighede teen 5nm sal
aanpak nie, maar teen 6nm was die lakens al droog.
Oorgebring na die koninkryk van die Seun van liefde
Dis
ons kerkvriende wat na Ganzie toe gekom het vir sendingwerk onder die
Boesmans op Quabo so 80 km buite Ganzie. Ons arriveer en word verwelkom.
Hier tussen die Kalaharibossies vind ons ‘n oase. Groengras, silwerskoon
varkhokke, versorgde bokke, ‘n rugbyveld vol waatlemoene in
verskeidenheid van groeifases onder drup besproeiing en ‘n
sement-swembad. Christopher se pa was van die versiendes wat sy gesin
uit Mitchelsplain uitgevat het na Northpine, Brackenfell se spog bruin
woonbuurt. Dis nadat hy betrokke geraak het by die Murraysentrum op
Wellington dat die belangstelling in die San mense se heil begin het. Na
‘n besoek aan Quabo waar hy beheer oor sy bakkie verloor het, maar niks
oorgekom het nie en met ‘n dankbare hart besef het hy en sy kind is
veilig, is hy gekonfronteer oor die redding van die San mense. Nou, 4
jaar na sy besluit om sy belange in SA te verkoop en die fondse te benut
om in Botswana te vestig raak ‘n paar dinge vir my al duideliker. Die
oorlaaide 19-voertsek-voertuie wat bo verwagting die rit na Botswana
maak, die plaasbestuurdershuis wat leegstaan met hul aankoms, gereed om
in te trek, die stories van hoe gebid is vir die regte plek om te boor
vir water en die boorman skepties gevra het, ‘maar het jy dan nie ‘n
waterwyser gekry nie’ en ‘weet jy jy gaan betaal al kry ek nie
water nie’ se gesig toe die fors water op 8 meter die boormeter
slaan dat dit klink of die ding breek-dit alles bevestig dit wat ek die
jaar ook beleef het: Voorsiening wat jy nodig het wanneer jy dit nodig
het.
Kleurgrense
Skaam-
skaam kom die kinders uit die kamer, groet en maak spore met ons span
buitentoe. Die aand kom kuier vriende. Ek dink hul was dalk bietjie
verras oor ons velkleur. Die geselskap het maar stadig op dreef gekom,
maar na heerlike roti’s en kerriekos was die skanse af. Ete maak mos so!
Ons praat gemaklik oor die pyne van kleurgrense en hoor verhale wat
seermaak, terwyl ons kinders binne kuier sonder enige vrae. Hier in
Botswana was die bruinkinders op skool deur die swart mense ‘n woord
genoem wat ‘n mengsel van koeimis en modder beteken. Na ‘n aand se
gesprek besef ek harte is aangeraak ongeag dat ons vra na
rasseversoening nie klinkklare antwoorde het nie.
Die dae verloop bloedig warm en stadig. Ons rus en gesels en besef hier
is tyd, baie tyd. Sondagoggend was ons hoogtepunt om die kerk op Quabo
by te woon. Sonetta se broer is skielik oorlede en sy moet na KZN in
SA. Ek bied aan om haar kinderkerkgroepie te hanteer. Miskien is ek te
braaf, maar daar is nie baie opsies met Sonetta weg nie.
Woordlose boodskap aan kosbare Boesmankinders
Hoe
hou jy kinderkerk met 20 Boesmantjies tussen 2 en 13 jaar oud sonder dat
jy hul taal kan praat. Ek bid toe maar vir leiding, wat kan ek
nou doen? Ek het darem so bietjie kinderkerk ondervinding en weet van
ouderdoms- groepies in aktiwiteitstasies verdeel. Met klein Riaan se sak
lego, ‘n klomp Weg tydskrifte, ‘n tou, my swart ‘skirt’ (oor my kop vir
die duisternis) en wit hartjies kamerjas (vir Jesu) vertrek ek manhaftig
na Quabo. Daai Sondag geklee in my wit hartjie kamerjas dra ek toe
Boesmantjie vir Boesmantjie van ‘n doringbos plek na ‘n sagte
slaapsakplek nadat een na die ander eers moes roep ‘Jesu withe’ wat
beteken ‘Jesus help’ (dit het ek by die kerk se tolk wat saam ons die
80km kerk toe gery het uitgevind). Halfpad deur die illustrasie kom ek
agter een outjie verstaan en kan tolk. Kol 1:13 word toe lewendig in hul
San taal. As jy roep hoor Hy en bring jou oor van die koninkryk van
duisternis na die koninkryk van die Seun van liefde. Die ouers kom
aangestap en my tolkie bid ter afsluiting. Ek groet en begin opruim,
maar niemand loop nie. Christopher kom lig my toe in dat niemand sal
loop voor ek loop nie. Gelukkig onthou ek van die sak lekkers en laat ‘n
kind dit uitdeel. Ek dink, die dinge wat ons doen vir ander mense, is
op die ou end die omstandighede wat ons, meer omvorm as diegene wat jy
probeer help.
Die langpad terug
Die
rede hoekom ‘n roekie nie Botswana toe ry in een dag nie, is die donkies
op die pad. Dikwels is die donkies se enigste waterbron die teerpad se
poele na dit gereën het. Dit het lanklaas gereën in Botswana. Dis nogal
hartseer om die donkies te sien staar na die pad, asof die water enige
oomblik gaan verskyn. Ons bereik die grenspos teen 5nm en wonder waar
ons gaan oornag. Vir afwisseling besluit ons om nie weer op Avante
te
Zeerust te oornag nie en eerder aan te ry. Groot Marico het nie 'n
kampterrein nie, Swartruggens vra R470 vir die nag, Rustenburg is woes
besig en so land ons teen 20:00 met dankbare harte vir die bekende terug
op Buffelspoort. Ouma Sophie se 12 hardgekookte eiers, oor van padkos,
nou baie kosbaar, word gou ge-mash, met tamatiesous en kaas toasted
cheese in die pan gebraai vir aandete, soos ek in Botswana geleer het.
Kinders was dankbaar. Ek het ‘n groot pak springmielies gehad en soveel
gespring as wat ek kon. Salig, wat meer kan jy vra?
Die volgende oggend voor ons vertrek kom sit ‘n duif in die venster van
ons die bussie asof hy wil sê: Vrede vir julle.

|