Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
HOOFSTUK 18:
Ons 2 Oktoberfeeste
 Riaan
was nog al die jare ‘n ATKV lid, maar ons het nou eers as gesin lojale
besoekers (en dan groot ondersteuners) van die ATKV- oorde geword.
Bederf met baie lae buite-seisoen pryse, het ons halstarrig geraak om
onnodig duur te betaal vir kampeerplekke wat per kop vra, wat ons by
ATKV oorde vir die hele staanplek betaal. So, ons soek hulle nou uit.
Goed versorg, goed ingerig, outydse waarde vir geld. So vertrek ons dus
na Klein Kariba in Bela Bela en fier daar ons 20ste huweliksherdenking
en Adriaan se 16de verjaarsdag die 10 en 11de Oktober. Beide die feeste
was midde majestieuse donderstorms. Vir my is die hele jaar ‘n
huweliksherdenkingsfees, so ek verwag niks meer nie. Ons los egter tog
die slapende kinders in die tent en gaan eet die buffet ontbyt by Klein
Kariba se restaurant, die oggend van die 10de. Daar ontmoet ons 2
interessante ‘lektore’ by die kreatiwiteitseminaar.
Ons
gesels heerlik, Afrikaner, Jood en Indiër rondom SA se unieke uitdagings.
Adriaan word later ‘getreat’ met ‘chocolate surprise’ wafels en roomys
by Tobie en Mara se padstal en later die aand brie-kaas en groenvy ‘salticrax’,
Texan ‘steak’ en kaassous onder die magsvertoon van die donders en
bliksemstrale. So sit ons 6 rondom die sonsambreel wat onder die gazebo
se dak ingedruk is om die massas water te help reg afloop (gazebo alleen
kon nie) en kuier met repies ‘steak’ en Ina Paarman kaassous asof dit
die beste ooit is. Toe die storm bedaar moes ons die kinders stil maak
om nie die bure te steur met die geskater nie. Soos hulle sê
‘priceless’.
Die Eiland Spa
By
die een ATKV oord hoor jy van die ander een. Hierdie een is blykbaar ‘n
moet, met die land se langste supertube van ongeveer 70 meter. Ons
vertrek so 12:30, bietjie vroeër as beplan vanweë nog reën. Dit reën al
die pad van Bela Bela tot in Polokwane. Ons het eers gedink Die Eiland
is naby Polokwane, maar was ietwat verlig om vas te stel dis nog meer
noord (ek dink?) weg van die reë, want dit sous. Ons ry tot in Tzaneen.
Dankbaar, dat ons liewer nog kan ry as om nou in die reën te probeer
kamp opslaan, ry ons toe gewillig verder. Ek onthou van die foto in die
Beeld dat Reiner (die sendelingkind wat van die bakkie geval het) se
begrafnis op Tzaneen plaasgevind het en kan nie help om net biddend die
genade komberse om hulle stywer te vou nie. Toe ons uiteindelik
ongeveer 19:30 by die Eiland aankom reën dit steeds. Toe reën dit al 8
ure aanmekaar. Genadiglik toe ons uitklim hou die reën op. Ons slaan
vinnig op en kry iets om te eet. Die supertube was voorwaar ‘n ‘treat’.
‘n Mooi sportiewe mamma het my ‘n truuk geleer om rêrig vining af te kan
gly. Weens die aard van die truuk, kan ek dit nie hier bekend maak nieJ,
maar al wat ek kan sê is, dit werk! Op ‘n stadium sê my jongste hy dog
ek kry seer, toe kom hy agter ek maak soos ‘n motorfiets van lekkerte
soos ek by die tube afgly! Groot prent, ure aanneen.
Letsitele
Ons
was hier bietjie onkant gevang met hoe ver die naaste dorpie van die
Eiland af is, so vinnig Spar of Pick en Pay toe draf vir voorrade, is
toe nie so maklik nie. Ons besluit om Sondag deur te ry dorp toe vir
voorrade. Die naaste dorp is Letsitele ongeveer 43 km se ry. Dis toe net
hier waar daai gebed vir ‘hoogmoed uitwys’ beantwoord is. Ons let nie op
die tyd nie – winkels is mos maar oop op Sondae ook. Ons kom so 12:50
by die Spar aan. Ek sien nie die kennisgewing dat die winkel 13:00 sluit
op ‘n Sondag nie en stap dus rustig met my lysie in die een hand, budget
in my kop, en laai sorgvuldig items in die waentje om my so lank
moontlik te hou. Op ‘n stadium kom die sekuriteitswag na my toe, tik my
op die skouer en sê nogal ernstig ‘the shop is closed’. ‘oh’ sê ek en
stap verder. Minute later stap Riaan na my, wat nou van buite af sy weg
deur die deurwag moes boender om te kom betaal, en lig my toe ook in dat
die winkel reeds gesluit het. Met die gemengde emosies van 43km ry,
genoeg hê vir tiener aptyte en my begroting, was daar net nie ruimte vir
hierdie vierde issue van die winkel wat nou toe is nie. Ek sê toe ewe: ‘Well,
wat moet ek nou maak-hulle moet net wag’ Dis mos hoe dit werk in die
Kaap: die klant is koning. Ek stap toe rustig verder en voltooi my
aankope.
Riaan sê vies vir die mense toe hy loop dat hulle ‘n
kennisgewing oor die toemaaktyd by die deur moes sit, dan sou dit nie
gebeur nie. Toe ons loop, sien hy die kennisgewing was al die tyd daar! Oppad terug koop
ons die heerlikste vrugte langs die pad. Ons sien ook ‘n mooi versorgde
dorpie, huise en NG Kerk. Een interessante huis se tuin is propvol mooi
goedjies en beeldjies, maar tog is daar ‘n bordjie buite wat lees; “Be
a friend … just keep driving”. Ons verstaan nie. Daardie aand steel
die apies al my piesangs en gryp met die wegholslag sommer ‘n avo ook.
Dis eers ‘n hele paar dae later (na ‘n gesukkel met ‘n keelseer…) wat ek
skielik die hoogmoed in my optrede in die Spar raakgesien het. Die
wêreld moet wag, want ek doen my aankope. Ongeag moeë mammas want na ‘n
lang week se werk by hul gesinne wil uitkom. Effe verleë en dankbaar vir
die insig kan ek sonde bely…
Net te toevallig
Jy
sal nou sê ‘haai, dis nou toevallig’ as jy hoor wie ontmoet ek in die
swembad: die bure van die Mosambiek sendelinge wat Reiner verloor het –
Mauritz en Staphanie Perold met hul 2 kinders. Die dogtertjie en Reiner
was saam die enigste wit kinders in ‘n Sotho kleuterskool, om Sotho te
kan leer. Wat is nou die kanse dat met die voorval wat my so intens raak,
ek wraggies die bure raakloop hier? Ons het gou lekker vriende geraak en
die klein kinders het mekaar geniet. Toe ons groet, gee sy haar
dagstukkie boek vir my as ‘n geskenk. Met my verblyf in Roodepoort het
ek tot die oortuiging gekom om my dagstukkieboek aan Erna, my gasvrou,
te gee. Ek het net geweet geld of iets wat geld kan koop, kan nie
vergoed vir wat hulle vir ons beteken het nie. My dagstukkieboek was ‘n
rare fonds, een van Charles Spurgeon, wat vir my ‘n juweel was - en hier
ontvang ek weer ‘n dagstukkieboek - een wat vir die gewer spesiaal is.
Wat jy saai sal jy maai…
Greta
Ek was opgewonde toe ek uitvind dat Greta Wiid, ‘n gaspreker is die
naweek van 19-21 Oktober 2012. Ek tel so te sê die slapies. Ek het mos
my storie vertel van die WWC en my kritiek oor die 5300 mense wat sy
gelok het-menseverering en hoe ‘handle’ jou ego dit en so aan. Nou ja,
met ‘n skoon hart kan ek vir haar en haar gesin bid en vir dit wat sy
hier kom doen. Die oggend breek uiteindelik aan en ek maak gereed om te
gaan. Riaan maak dit duidelik dat hy ander dinge het om te doen, maar
stap tog saam. Toe ons 9:50 by die saal kom is ons die eerste mense daar.
Later kom daar nog 2 en nog later nog 2 (Riaan bly toe maar…). Toe Greta
daar instap, is ons toe ‘n volle 6. Mens kan die organiseerder se
verleentheid met ‘n stok aanvoel. Ai, dis seker nou sleg vir haar. Sy en
Francois het die die Vrydagaand eers 12nm tuis gekom en moes weer 5vm in
die pad val om betyds te wees vir 10:00 (vir ons 6). Sy moet die aand
weer op ‘n plek wees om mense toe te spreek. Dis daardie oggend wat my
respek en waardering vir Greta gegroei het. So natuurlik stel sy die
organiseerder op sy gemak oor die min getalle, trek ons nader en begin
haar ding doen op so ‘n wonderlike persoonlike vlak. Sy zoom in op elke
gesin verteenwoordig se persoonlike vrae asof sy regtig omgee en eindig
die gesprek na 2 en ‘n half ure met woorde van lewe wat in elke gesin se
spesifieke behoefte ingespreek het. Wow, ek sluk nou my gedagtes oor
haar 10 keer en besef hierdie vrou is voorwaar ‘n Worthy Woman. Wat ‘n
inspirasie! |