Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
HOOFSTUK 19:
Geld wat stom is maak nie reg wat krom is…
Ons
laaste naweek op die Eiland ontmoek ek vir Miandra. Ek het die donkerkop
dadelik raakgesien in die swembad, maar nooit besef met hoeveel die
pragtige sportiewe mamma van 3 op haar skouers sit nie. Nadat sy opmerk
dat ek die kinders self onderrig, het sy begin nader kom en vrae vra. Sy
vertel haar storie van haar droom om dieselfde te doen as wat ons doen
om deur SA te toer-verskil is net sy’s ‘n weduwee en haar 3 kinders is
onder 10. My maag het geruk toe ek hoor dat haar man selfmoord gepleeg
het oor ‘n saketransaksie wat gevou het. Miandra en haar gesin draai hul
rug op Kromstraat. Hulle het eerstehands beleef watter berowing die
leuen ‘geld wat stom is maak reg wat krom is’ inhou. Dis haar familie
wat Tabitha aangeneem het. Die volle storie van hierdie roerende verhaal
is tans op die hoofblad van ons webtuiste
www.sadogood.co.za.
Dit verskyn ook by die skakel “Dorpe” onder Pretoria.
Die eindeksamen is op ons
Na
ons tyd by die Eiland, het ons aangery tot verby Sabie en vir ‘n
‘midweek special’ gebly in Sudwala Lodge. Hierdie was ‘n heerlike
meevaller van Riaan se suster, Mariska, wat tyddeelpunte beskikbaar
gehad het en vir ons aangebied het. Die vierdie kwartaal vir die
Hoërskool kinders bestaan basies net uit hersiening en eksamen skryf.
Dis nou hier wat ek die ding in die oë moes kyk, wat elke keer my wil
druk om te perform. ‘Dit sal my darem laat sleg lyk as die kinders nou
sleg doen in die eksamen’. Ek moes maar weer die hoogmoed bely en het
dankbaar ontspan: die lewe is meer as om mense te ‘impress’. Ons het
darem kon putt-putt en tennis speel, en groot paddas en baie klein apies
sien. Ek, Riaan, Karien en Riaan II is ook een dag deur na Nelspruit
(so 34 km) vir inkopies en was beïndruk met die groot Mbobela stadion.
Ons het nie die Sudwala Grotte gedoen nie. Riaan het wel gaan loer –
ook na die dinasouruspark langsaan. Ons vertrek Vrydagoggend na ‘n
harde werkweek, so effens gedruk om 10:00 uit te wees, vir die skoonmaak
deur die werkers vir die naweekbesoekers.
Herenig met familie in Nelspruit
Voor
ons vertrek na die Kruger Wildtuin gaan ons deur Nelspruit om my ma se
suster, tant Dirk, te gaan groet. Hulle was laas by ons troue en weer
vlugtig by my ma se begrafnis. Dis tog snaaks wat met ‘n mens gebeur as
jy ouer word (oor familiebande) hoe kosbaar dit word. Ek is baie
dankbaar vir die kans om weer met hierdie familie te ‘connect’. Gee my
so stukkie van my ma terug.
Die Kruger Wildtuin
Ek
vind gewoonlik so dag of wat voor die tyd uit van my volgende bestemming.
Die pad na die Numbi-hek is interessant. Ons verstom ons aan die Sothos
se netjies geboude huise. Hulle het nie plakkerskampe nie, en daar is
baie spasie tussen huise.
Ons
ry deur Witrivier tot in Numbi. By die wildtuin aangekom is daar
duidelike tekens orals op: ‘Moenie die wilde diere kos gee nie, dit sal
hul dood beteken’ Die oggend waar ek in die holte van ‘n groot wilde
vyeboom sit en God opsoek, sien ek ‘n rooivlerkvoëltjie en sy maat kom
eet aan die ryp wilde vye. Ek dink aan die mensdom wat ook daarvoor
bestem is om deur God versorg te word en hoe dit ook hul dood kan
beteken as hul iets anders as God hul bron maak. Ek dink aan Dawid wat
sê: Ek was jonk en ek was oud en ek het nooit die regverdige van God
gesien bedel vir brood nie. Een oggend vroeg was ek wasgoed in die
waskamer. ‘n Pragtige blinkvlerkspreeu en sy maats kom ingevlieg. Die
waskamer se lig brand deur die nag en daarom is daar ‘n magdom
goggatjies op die vloer wat die lig kom opsoek het en nou uitgeput of
doodgebrand op die vloer lê. Dis natuurlik partytjie tyd vir die spreeus.
Ek hou hul dop hoe hul die goggatjies gulsig soos sosaties inryg in hul
bekke. Dan raak dit te veel en al die goggas wat sorvuldig opgepik is,
val net weer op die grond. Probleem is, dan is sy maat daar om op te tel
wat hy verloor het. Groot probleem, die gierigheid…
Oor
die Wildtuin-gedagte was ek nogal neutraal. Ek het nogal die verslawende
uitwerking van ‘soek en vind’ geniet. Ons het net geslaap in die kamp (Pretoriuskop),
teen 9vm die pad gevat deur die wildtuin, en eers 5nm terug gekeer. Ons
het telkens gaan soek na nog interessante diere wat ons nog nie self
gesien het nie. Die kinders het R20 vir elke wilde dier (boksoorte
uitgesluit) gekry-so die speletjie was lekker en belonend. ‘n Heerlike
tyd wat ek heeltemal onderskat het. Wat sleg was, was dat ek ontdek het
dat ek het my skêr en teepot by Sudwala Lodge vergeet het. Dit laat my
soos ‘n ‘loser’ voel aangesien ek ‘n spoor agterlaat van goed wat ek
laat lê. Ergste van als is dat die seuns ontdek dat hul yster oefenpyp
ook agtergebly het. Nou’s hul nes hul ma. Vir Riaan wat baie mooi na sy
goed kyk, kon hy nog die skêr en die teepot oorsien, maar die pyp is
onvervangbaar. Ons het dit by sy pa se huis gekry. Dis ‘n as van ‘n
motor wat sowat 12kg weeg en wat sy pa as jongman en Riaan as seun
gebruik het om sy armspiere te oefen.
Vandat
die seuns die legendariese pyp se verhaal ontdek het, ry die pyp saam en
oefen hulle kranig van plek tot plek hul spiere. Dis lekker om te weet
my vergeetagtigheid bepaal nie meer my identiteit nie, tog is dit vir my
belangrik om nie ‘n legacy van agterlosigheid na te laat nie. Ons
besluit toe om terug te ry om die verlore items te gaan haal en die
vermorste petrolgeld van die seuns se sakgeld af te trek. Ek kry
ongelukkig nie sakgeld nie en kon niks bydrae nie (behalwe die padkos)
al behoort ek… Ek het darem eerste die luiperd met haar welpie gesien,
en dit het my R50 in die sak gebring. Die opset in die wildtuin is
indrukwekkend – iets waarop ons maar trots mag wees. Uiteindelik het
ons alles gesien, behalwe die leeu.
Mount Sheba
Ons
vertrek deur Paul Krugerhek via Hazyview. Na die wildtuin ervaring was
die instruksies kyk uit vir koors en laat toets jou, want dis mos
Malaria-area, sien, en ons het nie vooraf die pilletjie ding kon doen
nie. Dit was dus nie lekker toe Karien aankondig dat haar kop seer is
oppad na Mount Sheba net buitekant Pelgrimsrus nie. Dit is so 20km uit
teen ‘n berg op met so ‘n nou paadjie dat net 1 voertuig op ‘n slag daar
kan deur. Hoe verder ons teen die paadjie op hoe meer sak my moed. Ek
het geen medisyne om nou iets te dokter, behalwe Panado nie. My Vit C
het ek opgebruik met my seer keel op die Eiland en kon dit nog nie weer
vervang nie.
Daardie
nag in die pragtige plek (ook vakansiepunte van ons vriende, Joan en
Bertie Louw) sit ek langs ‘n kokend warm dogterjie met Malaria bordjies
wat verbyflits.
In die nag is alles mos erger en die lang opdraende paadjie tot by Mount
Sheba voel ewe skielik myle ver.
Wat maak my anders as Reiner se mamma? Mens raak klein en broos, en jy
raak bewus daarvan dat jy op niks geregtig nie - jy kan maar net
petisies rig en dan berus by die Alwyse Soewereine Een.
Ai, dis nie lekker as ‘n eens sprankelkind ‘n dag omslaap, vreemde dinge
sê as sy koorsend wakker word en met groot pupille, wat jy weet nie
registreer nie, staar. Iewers moet jou hart gaan rus oor jou kinders.
Die broosheid van die lewe is net te onpeilbaar om jou vrede te vind in
jou voorraad medisyne, of die pad dokter toe. Dis net by Sy Almag, Sy
beheer en die berusting by Sy besluite waar my hart tot rus kom. Groot
vreugde wanneer sy die volgende oggend wakker word en sê: ’Mamma, ek is
beter”. |