Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
Hoofstuk 21
Is daar net een fontein?
Misleiding?
Die sleg daarvan is dat as jy mislei word, is jy die laaste een om uit
te vind daarvan. Ek is weer gekonfronteer met die vraag of daar net een
fontein is. Wat maak ek met mense wat anders glo? Ek het ‘n pligsgevoel
om almal (veral my kinders) op die regte pad te help en glo natuurlik my
pad is die regte pad. Ek het al soveel keer in die strik getrap, dat
mense se dade en woorde my benoud maak. Sonder dat ek in harte kan
insien kategoriseer (dis ‘n mooier word as oordeel) ek mense, as reg of
verkeerd op wat ek hoor en sien. Dis wat die gees van kritiek doen. Hy
verwag om geoordeel te word volgens sy intensies, maar oordeel ander
volgens hul uiterlike. Ek dink nie dis noodwendig om beterweterig te
wees nie (alhoewel dit so voorkom); meer om nie mense die verkeerde pad
(na my mening en hoe ek die waarheid verstaan) te laat stap nie, so half
‘ek moet jou waarsku’. Dit bring my in die moeilikheid, want dit
kom daarop neer dat ek besluit wie’s reg en wie’s verkeerd. Nogal ‘n
swaar las. Is die swaar verantwoordelikheid op my skouers myne om te dra?
Iewers onder dit alles lê vrees. Vrees vir die pad verloor, vrees vir
skuld dra, vrees vir verwerping…
Vonkelfontein
Ek
is besig met ‘n nuwe boek van Murray, Die Krag in die Bloed.
Hierin word ek herhinner dat God se geregtigheid eis dat my sonde
gestraf word en sy liefde bied die plaasvervangende dood van die Lam van
God wat ‘n ewigdurende fontein bied wat sonde afwas, vir die wat dit sal
aanvaar as finale werk. Hier sit ek langs die rivier tussen die bome op
die plaas Vonkelfontein en besef hoe ek keer op keer die wassing
van hierdie Fontein benodig. My hart so seer oor my verkeerd, maar tog
so dankbaar vir die Vonkelfontein.
Die kinders leer mooi en ek kan sien hoe hul groei. Ons het nie
selfoonopvangs by die huisie nie en die kinders
moet dus voordat en nadat hulle geskryf het, met die bult op om opvangs
te kry om vraestelle af en op te laai en per internet aan die
eksaminatore te stuur. Die kleintjies gedra hul tjoepstil tydens die
eksamensessies, tog te dankbaar mamma is nie nou beskikbaar vir hulle
skool nie. Riaan word tog ingespan deur die boetas om die ‘tablet’ hoog
te hou sodat hulle die vraestelle kan oplaai. Sy armpies raak maar moeg,
veral as hul dan skelm op facebook gaan!

Rooikat-jag
Die
plaasbestuurder reël dat hy ons die aand sal kom oplaai om die rooikat
wat al 17 van sy skape, asook hoenders en ganse gesteel het te skiet.
Waar gewere betrokke is, dink mens maar aan veiligheid en ek bid toe
sommer vir hulp en beskerming. Wynand het ‘n behoorlike geweer in die
bakkie met ‘n teleskoop aan en ons luister aandagtig na die instruksies.
Hy is moeg, want dit is planttyd – die vorige aand het hy 01:00 gaan
slaap en 04:00 opgestaan – dis na ‘n paar dae, nie meer grappies nie.
Daniel moet die lig
skyn die donkerte in, en wraggies, nie 50 m van die huis af nie, by die
skaapkraal drafstap ta so ewe geïrriteerd dat ons hom kom steur. Wynand
is eers effe ontkant gevang, probeer mik, maar rooikat is agter ‘n
muurtjie in. Ons ry aan om agter die muur te kan insien en daar gaan
staan die rooikat so ewe uitbors, neus in die lig op die muur. Daniel
skyn die lig vol op hom. Almal is tjoepstil. Dis nou die kans. Wynand lê
sommer so met die linkerhand aan, deur die oop venster en trek ‘n skoot.
Die rooikat sit nie meer op die muur nie. Is hy getref? Daniel skyn die
lig en ons sien 2 groen ogies blink op die grond. Ons het hom. Wynand is
dadelik op die 2-rigtingradio om almal in te lig. Hy gee ons ‘n high
five en sê ons het vir hom “good luck” gebring. Nee, nie
luck nie, net Sy guns, wil ek uitskree, maar doen dit nie - bang om
die oomblik te spoil. “Blom, jy’s ‘n doring” hoor ek Wynand se vrou se
stem op die radio. Die plaas juig, die dief is gevang. Die boer kan
vroeg in die bed kom. Later sê ek darem vir hom, “ek moet net sê dat
ons gebid het.” In ekstase gaan ons terug en vertel vir almal wat
wil hoor die storie ‘n paar keer. Vonkelfontein se rooikat is dood.
Nie aan my nie, Here, nie aan my nie, maar aan U
kom toe die eer…
 
Vroegoggend langs die rivier tussen die ruig Wilgerbome bedink ek my
effe vertraagde reaksie om aan die Here die eer te gee vir die
unbelievable tydsberekening om die Rooikat te kon skiet. Dis asof Hy
die kat op ‘n skinkbord gegee het. Om mense te behaag is darem maar diep
in my hart ingegrein. Ek wil dit nie daar hê nie.
Openbaar Uself aan my Here
Elke
keer as ek dit bid, dan ervaar ek ‘n openbaring van Hom in die natuur.
Toe ek by die Eiland was en dit bid, het ek na so rukkie se wag gewonder
hoe gaan Hy dit nou doen. Toe ek opkyk sien ek die mees besonderse blom
aan ‘n doringboom. Ek staan in verwondering oor Sy absolute vindingryke,
kreatiewe, unieke idees vir elkeen van ons. Die kleurkombinasies van
pienk en geel, die teksture van die draadjies
waaruit die blommetjie bestaan, die meegaande fyn varingagtige
blaartjie-dit alles vorm ‘n volmaakte prentjie. Die volgende dag is die
pragstukkie, ‘n verdorde kleurlose takkie. Dit herinner my om elke dag
‘n vars openbaring te kom kry. Gister se manna is nie vir vandag nie
bedoel nie.
Na die rooikat-ervaring (ek en Karien het ewe braaf saam met Daniel en
Riaan II agter op die bakkie gestaan en “jag”) vra ek natuurlik weer die
volgende oggend ‘Here, openbaar Uself’. Weer wag ek so bietjie, kyk ek
rond, wonder ek wat gaan dit vandag wees, en net sodra ek dink ‘seker
nie vandag nie’ sien ek ‘n vreemde verskynsel. Die boom langsaan het ‘n
hele paar nuwe baba lote onder dit. Die vreemde daarvan is, dat die nuwe
boompies nie die afstammelinge is van die boom waaronder dit staan nie.
Dit kan jy uit die verskillende blaartipes sien. Toe ek agter my kyk
staan die mammaboom ‘n goeie 20 meter van die lote af, agter ‘n draad.
Mens weet nie hoe die wortelsisteem onder die grond lyk nie. Dit
herinner my: God hou daarvan dat ons gaan en die wêreld beïnvloed, en
nie in ‘n ‘holy
huddle’ bly nie. Sprei jou vlerke. Hier by Vonkelfontein, toe ek die
eerste dag my ‘hide away’ tussen die wilgerbome ontdek het, vra ek weer
‘Here, openbaar Uself aan my’. Ek gaan toe aan met lees.
Oomblikke
later raak ek koud met die geluid van dringende asemhaling van agter my.
Dit klink soos ‘n dier wat al ‘n langpad volstoom hardloop. ‘n Duiker
skiet verby my. Sonder om te besef dat ek op die boomstam sit, hardloop
hy kop ondertoe al met die paadjie langs, sonder om te rus of water te
drink. Ek sit en kyk hom agterna. My hart raak rustig.
Ek
wonder wat jaag hom. Minute later hoor ek weer iets agter my. Hierdie
keer net die skuifeling van grassies. Ek verstar en kyk net voor my. Ewe
rustig kom nog ‘n duiker rustig verbygestap, wei aan die grassies en kyk
rond.
Hy sien my eers nie. Toe hy so meter van my af is, draai hy om en kyk my
met groot bruin oë rustig in my oë. Vir ‘n paar sekondes behou ons
oogkontak, toe draai hy om en stap net so rustig weer terug.
Ek weet van volstoom hardloop. Hierdie jaar het ons rustig gevat en
mekaar in die oë gekyk. Ek wil nie weer so hardloop soos voorheen nie,
‘n mens mis te veel. |