|
Hoofstuk 22
Net
genoeg:
Ons verlaat Ermelo. My hart was effe belaai die afgelope paar dae. Ek en
Riaan het besef as die eksamen klaar is, is die jaar eintlik maar verby.
Dan het ons ‘n paar dae vir ‘vakansie’ in Kwa-Zulu Natal en dan terug
Kaap toe. Ek lag met die gedagte van vakansie hou. Ek sê grappenderwys ‘ek
sal jou glo, maar baie ander sal nie…’ vir die idee van vakansie.
Ons hou dan volgens baie die hele jaar lank vakansie! As ek terugdink
aan my benoudheid oor die finansies en hoe Riaan net die regte opdragte
deur die jaar ontvang het om genoeg in te bring om die jaar deur te sien,
glimlag ek. So nee, dit was nie ‘n jaar vakansie nie, maar dit was nie
‘n jaar van slawerny nie. Net genoeg vir wat ons nodig het-net soos Hy
beloof het. Nou kan ek met outoriteit sê: ‘As Hy sê Hy sorg vir my soos
vir die voëltjie-dan bedoel Hy dit!’ Wie sal my glo…
Ek
wil nie terug gaan nie:
Ek vul die aansoekvorms in vir die skool vir volgende jaar, met ‘n swaar
hart. Ek is die enigste een wat nie wil terug gaan nie. Ek het ervaar
hoe dit is as Hy vir jou sorg. Ek wil nie weer vir myself sorg nie. Dit
voel as ek terug gaan dat ek weer terug gaan in dieselfde sisteem. Ons
braai lekker die laaste aand met die plaasbestuurder. Sy woorde toe hy
ons groet was: "Julle sal nooit weer so naby mekaar wees soos hierdie
jaar nie. Ek neem daai woorde en bedek dit met die beste
nullifiserende ontmagtigende ‘antedote’ wat ek van weet, nl. die bloed
van Jesus. Toe ons saam bid die volgende dag seën ons die grond, plante,
diere, en mense, en verklaar moedig hierdie is maar net die begin.
‘Hide
away’:
Die eenkant wees van die jaar, was vir my baie kosbaar. Ek wil jaloers
daaroor waak om dit nie te verloor nie. Dis toe dat ek lees in Murray se
boek ‘laat ons toetree tot die heiligdom’, Geestelike jargon wat my
troos. Daar is ‘n onsigbare ‘hide away’ wat Hy vir my toeberei het, wat
ek na toe heen kan gaan om weg te kruip - al is ek in die sisteem. ‘n
Plek wat ek enige tyd na toe kan gaan, wanneer ek nodig het om
eenkant te wees. Ek het Angus Buchun aan ‘n skare mense hoor sê: ‘God is
vir my ‘n groter realiteit as julle wat hier voor my sit.’
Kosbare
wortels:
Ons verlaat Ermelo en
vertrek in die rigting van Piet Retief, en ry deur Dirkiesdorp en
Wakkerstroom om by Volksrust uit te kom. My ma se broer van 80 en my
niggie en neef en hul families bly daar. Partykeer onderskat mens die
waarde van familie liederlik. Oppad dink ek aan die beperkte tye wat ek
as kind saam met my gesin by die mense gaan kuier het en hoe ‘n
onbelangrike toevoeging tot die familie ek as jongste beklee het. Nou is
ek die een waaroor dit gaan. Ek dismiss die tikkie intimidering wat my
ou manier van dink wil deponeer. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor
my ma wat nie meer hier is nie en die kosbaarheid van wortels. Ons word
ontvang met soveel hartlikheid, gasvryheid en sit aan by voorbereide
feeste. Om soggens 7vm by my oom op die bed te sit waar hy nog sonder
tande stories vertel van my oupa en oumagrootjie se lewens wie ek nooit
geken het nie, was baie kosbaar. My pa se broer se weduwee bly ook op
die dorp. So nooi my nig aan my ma se kant my tannie aan my pa se kant
om vir die naweek saam te kuier. Die samesein is ‘n lekkerte wat diep
raak en wat niks anders kan vervang nie.
Saam huil ons oor die
ontydige dood van ‘n sieklike dogter, ‘n kleinkind in Australië, ‘n 92
jarige ouma wat verkrag en vermoor is, army grappe, en die waarhede uit
die Woord. Planne vir die nuwe jaar
bring geborgenheid. Toe ons vertrek vertel my oom hoe swaar dit vir hom
is as familie in die omgewing is en nie die moeite doen om aan te kom
nie. Hy vertel van ‘n familielid wat vir besigheid daar was. Hoe hy uit
sy tuin vars groente gepluk het en gery het om dit te gaan afgee. Hoe
die spanmaat op die oom se versoek om die familielid te siene te kry
verduidelik hoe besig hy is. Hoe hy die pakkie maar afgee en omdraai.
Uit die vertelling hoor ek die diep teleurstelling van die minagting van
die familieverbintenis wat vir hom so kosbaar is. Ek hoor daarmee saam
die intense waardering vir ons aankom by hulle. Daar is iets goddelik
aan bloedverbonde.
Hou
jou tong in toom, sorg vir die weduwees en wese:
Na baie gesels sluit ons Sondagoggend af met die gedagte van hoe
belangrik dit is om jou tong in toom te hou. Ons bid vir mekaar. Ons
bewonder die spiritualiste se manier om positief te dink en positief te
praat en die positiewe resultate daarvan. Ons christene kan baie by hul
leer wat dit betref. My tannie Ralie se weduwee-status het haar probleem
met die afhandeling van haar dogter se boedel verhef tot my nr. 1
prioriteit in take.
‘Hy wat sê dat hy godsdienstig is en nie sy tong in toom hou nie mislei
homself. Sy godsdiens is nutteloos. Ware onbesmette godsdiens voor God
en die Vader is dit:
Dat jy die weduwee en wese in hul
verdrukking besoek en jou reinig van die besoedeling van die
wêreld.
Ons vertrek almal om saam met my oom sy kerk te besoek. Ek voel hartseer
oor my oom se pyn as jong seun. Hy vertel hoe hy die woorde wat sy pa in
50 jaar met hom gepraat het op 1 blaadjie sal kan neerskryf en hoe
elkeen van daardie woorde was om hom te vertel hoe sleg en hoe lui hy
is, en wat dit aan hom gedoen het as mens. Hier sit hy op sy eie
spesiale stoel soos ‘n koning in die Evangelies Gereformeerde kerk (weens
die knieë wat nie meer kan hard sit nie) waar al die ander op harde
kerkbankies sit. Ek sien hoe Sy hemelse Vader hierdeur sê: "In my
oë is jy ‘n koning, ongeag die verlede… finishing strong"
Die dominee preek uit Jak 1:19 tot 26. Ek wil uitbars van opgewondenheid
in hierdie tradisionele kerk waar die glimlaggende dominee elke woord
waaroor ek en my niggie die oggend oor gebid het, herhaal. Ek kan
die smile nie van my gesig afhaal nie en drink elke woord in.
‘Here U is goed’- ‘die understatement of the year’. |