Contact Christo if you need
a good professional website
at affordable prices. You will receive the personal attention
you deserve.
more info:
christo1964@gmail.com
Christo van Lill,
ons vennoot met die sadogood-projek en ontwerper van
www.sadogood.co.za
werk tans daagliks en basies voltyds aan die Droom en sadogood.

|
Hoofstuk 25
Verwagtings en teleurstellings
Almal
het baie uitgesien na Natal se Suidkus en daarom was die teleurstelling
groot toe ons ontmoet word deur ongure weer. Dis nat en koud en die wind
ruk gazebo’s uit hul penne uit. Elke nou en dan hardloop ek en Riaan om
‘n gazebo van kampeerders wat gery het vir die dag uit, te red. Wat meer
is, toe ons aankom in Amanzimtoti was dit middagete-tyd en was dit, het
ons gedink, ‘n KFC-rondte – mos goed om die vakansie in te lyf. Dit het
later geblyk ‘n slegte idee te wees, want Riaan tel toe ‘n kiem van ‘n
aard op. Die res van die week voel hy erg sleg, naar, lyfseer en koors.
Dan is hy beter en sodra hy eet voel hy weer sleg. Die week sleep verby
met swaar gemoedere oor die weer en die olikheid. Daarmee saam is daar
nie lekker kommunikasie nie en ons mis mekaar met simpel goed.
Hoe
meer ek dinge probeer regstel, hoe meer veroorsaak omstandighede dat ons
mekaar bly mis. Dis die goed wat ek heimlik gevoel het ek nogal goed mee
is nl. om goed met geld te werk, nie spandabelrig te wees nie, vernuftig
etes koste-effetief te kan uitsorteer, en die minste te wees as my en
die groep se belange te verskil. Hoe kan sulke goeie goed teen my draai
en frustrasie veroorsaak? Ek besluit met moeite om myself nie jammer te
kry nie. Daarmee saam besef ek dat agter hierdie oënskynlike goeie goed
het ‘n geheime asemhaling van hoogmoed ingekom...ai, so slinks-hoeveel
nog?
Later
voel ek, ek kan nie wag om hier weg te kom nie. Die aand voor ons
vertrek ry ons deur na Pinetown, Dawncliff en La Lucia om na die huise
te gaan kyk waar ek as kind gebly het. Dit het ons gedoen reg deur die
land. My pa was ‘n bankbestuurder en so het ons kort-kort getrek. Die
huise-kyk-episode is maar net so gevul met frustrasies.
Verkeersopeenhoping, verkeerde paaie en ‘n soektog na die huise laat my
dink wat is die significance hiervan. Tog, soos ek by die huise opdaag
onthou ek hoe my broer vir ‘n week verpulpte kos met ‘n strooitjie
gedrink het nadat hy homself ter pletter geval het na ‘n speedwobble met
‘n chopper by die afdraende oppad na ons huis toe; hoe my pa benoud
onder ‘n klomp bakstene na my broer gesoek het toe die muur wat hul
gebou het ingeval het; en toe ek in die mangat ingeval het buite ons
huis nadat ek op ‘n skeefgeplaasde mangatdeksel getrap het en soos ‘n
valdeur net weer toegeklap het met my binne-in. Ai, dan was daar die
keer toe my 2 oudste broers aan die baklei was in die kombuis. Die
oudste so 16 bo-oor en op sy 14 jarige boetie besig om hom te wurg tot
hy blou raak … gelukkig is die 2 vandag groot vriende. Beteken dit iets
om weer jou voete te sit op die grond waar jy vormingsjare deurgebring
het? Ons eindig in Umhlanga Rocks en besef dis eintlik die atmosfeer
hier aan die Noordkus van Durban wat is wat ons gehoop het ons Natal
tydjie inhou. Die uitleg van die strandfront was met oorleg
toekomsgerig - so anders as die kortsigtigheid van die woonstelblok op
woonstelblok op Amanzimtoti te strandfront.
Die son sal wel weer skyn
Die
oggend van die 4de Desember is ek 4:30 vm op. Toe ek badkamer toe stap
sien ek vir die eerste keer die pienk van ‘n sonsopkoms wat wil
deurbreek. Dis die eerste keer die hele week wat die opkoms iets anders
as net ‘n grys massa wolke en water is. Toe ek terugstap sien ek Riaan
staan met die kamera. Ons vra spesiale vergunning vir die sekuriteitswag
om die hek na die brug oor die treinspoor oop te sluit, al is dit nog
nie tyd nie. Ons hardloop om betyds te wees om die strale te sien
deurbreek. Soos die strale deurbreek breek die lig in ons gemoedere deur.
Ons geniet die tyd saam en besef die broosheid van die mens en
verhoudings. Ons besef hoe sulke tye groeigeleenthede is en hoe
waardevol die uitwys en bely van ‘n paar geheime asemhalings van
hoogmoed is. Ons is reg om te vertrek.
Hersteljaar, jubeljaar…
My ouma en oupa het al die jare op Port
Shepstone gebly en ek was opgewonde om weer hul huis te sien en my gesin
te wys. Dis hier waar die huise-kyk betekenis kry. Toe ek voor my ouma
se huis staan oorweldig ‘n hartseer my van al die pyn wat my ma my van
haar grootword-jare vertel het. Van verwerping en soeke na identiteit.
Van hoe my ouma en oupa haar hanteer het. Ek staan en huil voor die
muurtjie. Die eienaar kom uitgery en groet vriendelik, min wetend van
die rede vir my daarwees. Ek kry die behoefte om my ouma en oupa vry te
spreek vir die seer wat my ma aangedoen is. Ek besef geen ouer sal sy
kind met opset seermaak nie. Dis in onvermoë en onwetendheid. Ek staan
sommer daar en vra dat die Here sal volmaak in my voorouers se nageslag
wat Hy bedoel het vir die bloedlyn en veral my Ma se naamgenoot, Karien.
Ek dink terug na Upington, waar ons die paasnaweek spesifiek vir Karien
gebid het na ‘n voorval.
Ek
besef al vir jare sy veg soos ‘n weeskind vir wat hare is en tree nie op
soos ‘n erfgenaam wat rus in sy erfporsie nie. Hoe my vriendin die
volgende oggend bel om haar droom oor Karien met my te deel en hoe
significant Karien se 11de verjaarsdag is, t.o.v. die dinge wat deur die
generasie oorgedra is! Sy het Mei-maand 2013 11 geword. Ek het nie eers
besef wat my ma se vertellings in my wakker gemaak het oor my grootouers
wat ek skaars geken het nie. Was hierdie hoogtepunt van huise opsoek God
se leiding om te kom heelmaak?
Hierdie sal vir julle ‘n hersteljaar wees,
‘n jubeljaar…
“Trust in the Lord with all your heart;
lean not on your own understanding”
Ons geniet Uvongo, Margate en Ramsgate,
probeer oral ‘n “glimpse” van die see kry, en koop lekker roomys met
karamel en neute. Ons betree die Wildekus en bewonder die swart boere se
huisies en landerye met voorvaders se grafte by die landerye oral
uitgesprei oor die heuwel op heuwel wat volg. Ons ry sowat 700km se
bulte op en af, heen en weer, en neem in. ‘n Trotse gemeenskap wat niks
van stedelike lewe en euwels weet nie. Dis pensioendag op Bizana en
Flagstaff en dit lyk kompleet soos ‘n kerkbasaar. Verby Lusikisiki kom
ons sterk skemer op Port St. Johns aan. Dis pragtig soos ons oor die
brug kom en die bruin massa water wat in die see uitmond bewonder. Ek
wonder waar gaan ons bly. Dis te laat vir kamp opslaan. My pa was
duidelik nie gemaklik met die idee dat ons deur die Transkei terug Kaap
toe kom nie. Oral is swart huisies teen die hange van die heuwels.
Hierdie is nie plakkerskampe nie. Dis huise wat al jare staan, goed
ingerig met ‘n tv sateliete, nogal. Nêrens is daar paaie vir motors om
by die huise te kom nie - net kronkelvoetpaadjies. Ek dink daaroor of ek
Riaan vertrou om vir ons veilige huisvesting te kry. ‘n Volkome rus kom
oor my wetend, ek vertrou nie Riaan daarvoor nie, maar weet dat die
Heilige Gees ons lei waar ons moet wees.
Amapondo
Ons
oornag in die “family room” van Amapondo backpackers. Hierdie is die
tipe plek wat my in die verlede die “kreeps” sou gee met hubly bublies,
dreamcatchers, en ‘n vrou wat aangetrek is soos ‘n wit sangoma (sy was
nogal daar vir opleiding hoor ons later die aand). Ek voel geen
bedreiging van goggas wat op my gaan klim nie en is dankbaar om te bid
vir mense om Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe te sien en te geniet.
Backpackers is gemoedelike verdraagsame mense. Daar’s nie reëls van reg
en verkeerd of aanvaarbaar en onaanvaarbaar nie. Die gesamentlike
badkamer vir mans en vrouens, oud en jonk, se storte het maar net ‘n dun
gordyntjie en nie droeë plek om aan die toekant van die gordyn aan te
trek nie. Ek het wel die Afrika masker onder die bed laat slaap, maar
was dankbaar vir die bakstene en dak soos die reën die heelnag uitgesak
het. Op die muur is daar ‘n vriendelike kennisgewing: “We live in a
severely impoverished area therefore do not carry more money as is
necessary, hide cameras and other valuables…”. Ons ontbyt die
volgende oggend met die oorblywende melk en Weetbix en vertrek na Mtata.
Soos ons uitry klim Riaan uit en gaan gesels met ‘n sekuriteitswag oor
‘n geveg wat hy gade geslaan het soos ons ingery het die vorige aand.
Riaan verduidelik hoe die person opgelig is en op sy kop gegooi is en
wys toe sommer hoe die geweldenaar die victim so skop in die ribbes
gegee het. Ons in die kar hou die aanhoorders dop en sien hoe hulle
begin glimlag oor wat Riaan te sê het, en veral hoe hy dit wys. Hulle
lag lekker toe hy demonstreer hoe die geweldenaar die victim in die
ribbes skop. Hulle verseker Riaan dat niemand dood is nie. Almal het
baie te sê oor die toestand van die paaie deur Transkei. Soos ons Port
St. Johns verlaat verstom ons, ons oor die speedbumps op die N2. Vir
kilometers aaneen sien ons padwerke maar geen werkers nie. Ons stop op
‘n kol en vra vir ‘n vrou wat vlagswaai waar die werkers is: “It’s
raining” sê sy. In Mtata aangekom glimlag ek vir die toneeltjie langs
die pad. ‘n Stalletjie eienaar sit kop onderstebo langs ‘n matjie wat sê
“Never lose hope”, min wetend oor hoe significant die boodskap
later blyk te wees.
Never lose hope
Ons
ry by Gonubie in net om die see te sien. Ons bel sommer ‘n paar plekke
vir oornag moontlikhede en bel so vir Lucia raak wat baie billike
gerieflike oornag geriewe het. Ons ry deur na Oos-Londen weer na een van
die huise waar ons gebly het. Hierdie een seker die mees significant een,
aangesien ek my hele Hoërskool loopbaan daar gebly het. Ek klim uit en
neem ‘n paar foto’s. Ek hoor ‘n benoude stem oor die interkom: ’Can I
help you?’ Ek verduidelik dat ons 25 jaar gelede daar gebly het en
wou net paar foto’s neem van die huis van buite af. Heel vriendelik nooi
Natasha my in en neem my deur die huis - pas nuut oorgedoen. Ons gesels
lekker en neem foto’s om my pa te wys. Na ‘n ruk kom Natasha se familie
daar aan en ons kuier toe eers lekker oor die jaar en sy dinge, en hoe
die Here vir ons voorsien en gelei het. Die mense kyk na mekaar en sê
hoe goed die tydsberekening van die ontmoeting was. Hulle het dit nodig
gehad, want hul kom nou van die dokter af waar hul alle moed verloor
het, maar getuig toe hoe ons storie hulle weer hoop gegee het. Ons ruil
nommers uit en druk mekaar soos ou vriende toe ons groet. By die
oornagplekkie aangekom ontmoet ons vir Lucia. Sy vertel hoe sy en haar
man ook so toer deur die land wou aanpak, maar gewag het tot hy aftree –
en net voor hulle kon vertrek is hy oorlede. Die trane loop en ek wens
ek kon iets doen om dit beter te maak. Sy kom nou van haar vriendin wat
pas haar man verloor het. Hierdie tyd van die jaar is die gemis veral
erger. Ek sluk aan my eie broosheid en vrese. Die lewe is ‘n gedagte en
kan in ‘n oomblik verander. Koester elke dag saam met jou mense en maak
vas aan die Een wat nooit verander nie.
Alle goeie gawes daal van bo af van die
Vader van ligte by wie daar geen verandering of skadu van omkering is
nie. |